Skip to content

Ds. Dawie de Wet het sy reaksie op Frits Gaum se brief aan Rapport gestuur
maar dit is nie geplaas nie.

Hieronder kan jy dit lees.

Dr Frits Gaum meen in sy artikel “Nà die Rubicon ‘n kruispad” (van Rapport 16.07.2023) dat gemeentes doleer oor die die onenigheid in die kerk na die besluit oor selfdegeslag huwelike. Die meeste dolerende gemeentes het in Mei 2023 as Koinonia Sinode vergader, maar die LGBTQI+ probleem was nie op die agenda nie.

Gaum erken dolering het “… byna alle suurstof in die kerk opgeneem …”, blykbaar sonder om te besef waaroor dit gaan: Gemeentes treur (doleer) omdat die Algemene Sinode (AS) in verskeie besluite nie meer die Bybel as onfeilbare Woord van God beskou en nie meer die belydenisgrondslag van die kerk respekteer nie.

Verder meen hy dat soos die NG Kerk afstand moes doen van Apartheid, sal die kerk ook moet inval by Sosiale Geregtigheid (‘wokeness’). Ongelukkig vergeet hy dat Apartheid nie uit die lug geval het nie.: “Die swakheid van sommige” het die oorhand gekry in ‘n raamwerk van vrysinnige teologie. Populisme was daarin belangriker as die Woord van God. Dit het destyds talle gemeentes in Nederland laat doleer.

Soos die NG Kerk in die vorige eeu die Apartheid denksisteem bokant die Bybel gestel het (en dit later moes bely!) is dit nou Sosiale Geregtigheid (‘wokeness’) waarvolgens die Bybel geplooi word. Daarvoor pleit Gaum en dáároor doleer Skrifbehoudendes.
Die NG Kerk is duidelik nie gesond nie. Gaum redeneer soos ‘n dokter wat net vir een simptoom van ‘n siek pasiënt medikasie voorskryf. Dit help oënskynlik vir die simptoom, maar dit vererger die dodelike infeksie van dwaalleer in die kerk.